
Kerkorrel
Die gemeente het ‘n besondere meganiese kerkorrel wat onder die grootstes in die land tel. Hierdie instrument word vir musiekkonserte en die opleiding van musiekstudente in samewerking met die NWU aangewend. Om die orrel in stand te hou en te bewaar vir die nageslag nooi ons alle musiekliefhebbers om deel te word van die vriendekring wat hierdie orrel geniet en wil bewaar:
1. Ek wil graag inligting ontvang oor musiekkonserte wat op die orrel aangebied word.
2. Ek wil ‘n bydrae maak tot die trustfonds wat die instrument vir die nageslag instand wil hou.
3. Ek benodig meer inligting oor die Miederpark kerkorrel
Ons help graag! Voltooi asb u persoonlike inligting en deel gerus u navraag. Ons kom terug na u so gou as moontlik.
NG Kerk Miederpark, Roeleveld pyporrel (1986)
Die orrel van die NG-gemeente Miederpark, Potchefstroom, is in 1986 voltooi deur die Nederlands-gebore orrelbouer Jan Roeleveld. Hierdie indrukwekkende instrument is die grootste orrel wat deur Roeleveld gebou is. Hierdie orrel is ook die tweede grootste meganiese kerkorrel in Suid-Afrika, naas die orrel van die NG-gemeente Somerstrand in Port Elizabeth.
Hierdie instrument is volgens die orrelboukonsep wat in die 1600’s gegeld het, gebou – dié werkswyse lei daartoe dat die orrel uniek vertoon en ‘n besondere klank het. Die orrelfront is versier met houtsneewerk op die kroonlyste. Die orrel bied egter baie meer as wat die blote oog kan sien. Die orrel beskik (binne- en buitekant) oor ongeveer 3 700 pype.
Die metaalpype van die orrel is vervaardig uit ‘n mengsel van tin en lood, en die metaallegerings wat vir die orrel gebruik word, is:
- Prestante en miksture: 33% tin en 67% lood;
- Fluite 25% tin en 75% lood; Strykers 40% tin en 60% lood.
- Die pype aan die front bestaan uit 70% tin en 30% gepoleerde sink.
- Die houtpype aan die binnekant van die orrel (wat deur die orrelbouer self vervaardig is), is gemaak uit Fillipynse- en sapele-mahoniehout.
Die orrel beskik oor drie manuale (dié manuale lyk soos ’n klavier, dus kan die orrelis van drie ‘klaviere’ af speel, elk met ’n unieke karakter). Verder het die orrel ’n meganiese speel-aksie wat beteken dat die orrel se verbinding tussen die noot wat die orrelis speel en die pyp direk is. Daar is ’n lang houtlat wat die pyp met die noot wat gedruk word verbind om sodoende die klep van die spesifieke pyp oop te maak.
Miederpark se orrel is uniek vanweë die feit dat die orrel se stemming volgens Van Biezen is, dit beteken dus dat die orrel ongelykswewend gestem is. Daarom leen die instrument homself uitstekend daartoe dat ou orrelwerke wat uit die 16de tot 18de eeu dateer, met groot vrug vertolk kan word. Dit maak die orrel des te meer uniek in Suid-Afrika.
Vriende van die Roeleveld Orrel Miederpark/ Friends of the Roeleveld organ Miederpark:
Na meer as 33 jaar van gereelde gebruik het dit nou nodig geword dat hierdie besondere instrument noodsaaklike herstelwerk sal ondergaan – dit sal verseker dat die instrument vir toekomstige geslagte bruikbaar sal wees. Vanweë jarelange se blootstelling aan die atmosfeer, vergader daar ook stof in die pype en dit beïnvloed die meganiese werking van hierdie lieflike instrument. Daarom is dit nodig dat die orrel deur ‘n kundige vakman (‘n orrelbouer) versien sal moet word – net soos wat ‘n motor nodig het om van tyd tot tyd gediens te word om maksimum werksverrigting te verseker. Pragtige eeu-oue orrels in Europa is vandag nog bespeelbaar vanweë die feit dat hulle met liefde getrou in stand gehou is en nog in stand gehou word.
Die Vriende van die Roeleveld Orrel Miederpark is ’n inisiatief wat geloods is juis as gevolg van die feit dat die orrel nou dringende aandag nodig het. Vanweë die omvang van die werk en dan ook uiteraard die koste daaraan verbonde, is dit nodig dat meer mense wat belangstel in die voortbestaan van pyporrels in Suid-Afrika, hierby betrokke sal raak. Die doel van hierdie inisiatief is om belangstellendes die geleentheid te gee om deel te word van die bewaring van hierdie kultuurskat.
Die Vriende van die Roeleveld Orrel Miederpark beoog om:
- ‘n Jaarlikse konsertreeks aan te bied waartydens bekende orreliste sal optree om so fondse in te samel en die orrel verder bekend te stel;
- Opedae vir die kinders te hou waar hulle blootgestel word aan orrelmusiek om so ‘n liefde vir pyporrels by hulle wakker te maak;
- ’n Fonds/Trust te stig vir die bewaring en instandhouding van die orrel – sodoende sal herstelwerk in die toekoms gefinansier kan word en sal dit vir die gemeente en die gemeenskap makliker wees om die orrel op ‘n deurlopende basis te onderhou;
- Die projek “Neem-‘n-Pyp-aan” te loods. Dit behels dat ’n persoon of persone of instansies ’n pyp of pype kan borg. Uit dankbaarheid vir die borgskap sal die persoon(e)/instansie(s) wat dit gedoen het, se name op ‘n gedenkplaat by die orrel aangebring word.
Ons vertrou dat die gemeenskap hulle harte en hande vir hierdie projek sal oopmaak.