Baie welkom in Miederpark gemeente!

Ons is ‘n geloofsfamilie wat onderling mekaar se liefde en vreugde deel. Saam is ons op reis in ons geloofsontwikkeling. As draers van Hoop in Christus, wil ons graag diensbaar wees en ons passie en vreugde laat oorspoel na almal wat ons pad kruis!

Een van die geheime om vreugdevol te leef, is om namens Jesus iemand anders te bedien en ‘n verskil te maak daar waar God jou geplaas het!
Dit doen ons, deur gebed te integreer met alles wat ons doen; deur met omgeeliefde te leef; deur mekaar toe te rus met Bybelse waardes as fondasie vir ons lewe; en deur die getuienis van ons verlossing prakties uit te leef!

Iets oor die gemeente:

Miederpark gemeente is ‘n dinamiese vernuwende voorstedelike gemeente, maar ook ‘n gemeente wat vashou aan Bybelse waardes. Die gemeente word bestuur deur ‘n gemeentebestuur wat saamgestel is uit 12 bedieningsleiers en twee leraars. Kenmerkend van ons geloofsfamilie, is ons omgeeliefde vir mekaar. Ons moedig mekaar aan om deur ons getuienis en gawes ‘n verskil in God se koninkryk te maak. Soos iemand opgemerk het: “Blom waar jy geplant is!” Gebed speel ‘n groot rol in alles wat ons doen. Die jeug is vir ons ‘n prioriteit en moeite word gedoen om ons kinders deur ervaringsleer te onderrig en te begelei. In omgeegroepe skep ons ruimtes vir emosionele versorging, meelewing, geestelike groei en uitreik. Dit is ons strewe om as draers van Hoop ‘n verskil in mekaar se lewe, maar ook in die breër gemeenskap te maak. Ons trap reeds oral spore in ons gemeenskap en wil graag ons getuienis prakties lewe!

Ontmoet ons personeel:

Ds. Christo en Natasha Schoeman

Ds. Christo Schoeman is gebore in Rustenburg en het sy skooldae deurgebring in Stilfontein, Krugersdorp, Potchefstroom en Randfontein. Hy het eers ’n loopbaan in IT gevolg, waarna hy weer aan die Universiteit van Pretoria studeer het en sy teologiese studies voltooi het in 2016. Die bediening van die Woord het hom geneem na Marquard (Oos-Vrystaat), Delareyville (Noordwes), totdat die Here hom geroep het na Miederpark Gemeente.

Ds. Christo is getroud met Natasha en hul 3 kinders het almal reeds hul skoolloopbane voltooi en is tans werksaam of besig met studies. Sovêr is daar een oogappel kleindogter wat oupa en ouma se harte gesteel het. Vêrder is draf, gholf en gym sportsoorte waaraan Ds. Christo deelneem, terwyl alle sportsoorte ondersteun word.

Ds. Christo glo dat die kerk nog relevant is in vandag se besige, aandag-afleibare en selfgesentreerde lewe. Jesus is Here en Koning en dit is Ds. Christo se passie om lidmate en ander volgelinge van Jesus toe te rus en te ondersteun om ons geloofsreis met volle vertroue in die Here te stap. Ds. Christo skryf graag daaglikse oordenkings en ander materiaal en u kan meer hiervan vind by https://sites.google.com/view/pitkos

Angelique van der Berg
(Getuieniskantoor)

Arinda Reyneke
(Kerkkantoor)

Mev Lyndy Theron (terreinbestuurder), Mnr Israel Ntoba en Mev. Lydia Manailane.

Gemeente logo:

Die simboliese betekenis van die gemeente logo:

  •  Die kruis: Die kruis is oorheersend in die simboliek en staan sentraal. In die gemeente gaan dit nie oor ons nie. Alles gaan oor God! Die kruis verwys na die liefde en genade van die Vader wat sy enigste seun Jesus Christus die Here aan ons opgeoffer het. Dit verwys ook na Jesus wat uit liefde vir ons aan die kruis gesterf het. Sy bloed het eenmalig gevloei vir ons volkome verlossing.
  • Die kleur blou, dui op die water van lewe wat uit die kruis-evangelie en gemeente voortvloei (vgl. Eseg. 47).
  • Die afwaartse swaard, verwys na die Woord van God wat as tweesnydende swaard ons lewe verryk, maar ook elkeen wat daarmee in aanraking kom vernuwe.
  • Die opwaartse vlam, verwys na die vlam van die Heilige Gees wat in ons harte brand.
  • Die ronde sirkel aan die kruis simboliseer myself. Elke lidmaat wat saam met Christus aan die kruis gesterf het, maar ook saam met Christus opgestaan het en nou vir God alleen lewe.
  • Die kleur groen, dui op nuwe lewe en groei. Saam groei ons geestelik en bring ons lewe oral in die gemeenskap waar ons beweeg.